Hendrik Jacobus (Hentie) Cilliers

Geskryf deur sy oudste seun Barend (Ben) Cilliers

Akademiese Agtergrond
Hy het op 20-jarige ouderdom in 1931 matriek geskryf en wen een van die Thomas Robertson beurse, wat hom in staat stel om universiteit toe te gaan. Hy is daarmee na die Grey Universiteits Kollege, Bloemfontein (latere Universiteit van die Oranje-Vrystaat) waar hy BSc (Chemie en Wiskunde) die UOD (Universitêre Onderwys Diploma) voltooi het. Onderwyl hy onderwys gegee het, het hy 'n B.Ed. graad deur deeltydse studie aan die UOVS behaal en ten tye van sy dood was hy besig met sy MEd graad.

Virginia was oorspronklik 'n spoorwegstasie op die Noord-Vrystaatse se vlaktes wat op die hoofspoorlyn tussen Johannesburg en Kaapstad gelê het. Mettertyd het 'n klein dorpie om die stasie ontwikkel en teen die laat 1940's het dit reeds benewens die spoorwegstasie, 'n eie poskantoor, Boshoff se motorhawe, 'n Algemene Handelaar (Relling's), Kruger's Bakkery, Prokureurskantoor (Mnr Stapelberg), 'die Griek' se kafee, Mnr Schneider se Smits-winkel, 'n spoorwegaansluiting na Welkom toe, 'n Engelse Anglo-Boere-oorlog begraafplaas, die Virginia Laerskool, en 'n stuk of 20 woonhuise bevat. Teen die einde van 1952 het die skool vier permanente klaskamers gehad sowel as 'n hele rits asbesklaskamers wat weens die groeiende Goudveld noodsaaklik geword het.

Teen die einde van 1951 het die Hoof van die Virginia Laerskool, Mnr St Elmo Wilken, reeds vertrek, en vir die loop van die volgende jaar het Mnr Victor Mentz as hoof waargeneem. Aan die begin van 1953 is die laerskool na 'n Junior Hoërskool opgegradeer en is Hentie Cilliers as eerste skoolhoof van die nuwe skool aangestel. Gelyktydig daarmee het Harmonie Laerskool, 'n nuwe skool "oorkant" die Sandrivier sy deure geopen met Mnr Victor Mentz as hoof daarvan.

Die eerste jare van die Junior Hoërskool, so-ook van die daaropvolgende Virginia Hoërskool, was baie moeilik, en soortgelyk aan die probleme wat by al die skole in die nuwe goudveld op Welkom en Odendaalsrus ondervind is. Talle nuwe leerlinge het voortdurend vanuit die Witwatersrand gebied na die Vrystaatse goudveld toe gestroom. Maatskaplike probleme het gefloreer, leerplanne tussen die Vrystaatse en Transvaalse skole het aanmerklik verskil, en bowe alles was onderwysers onwillig om hulle na die goudveld te begewe. 'n Nuwe skoolhoof het nie 'n maklike tyd gehad nie. Probleme is vermenigvuldig deurdat nuwe geboue vir die Virginia Laerskool opgerig moes word wat in 1954 afgestig het, nuwe geboue, insluitende 'n skoolsaal, vir die hoëskool opgerig is. Al die probleme is vererger deurdat die nuwe ontwikkelinge op Virginia, die myndorp, plaasgevind. Die myndorp was ongeveer tien kilometer verwyder vanaf die ooorspronklike stasiedorp. Laasgenoemde het gou 'n naamsverandering ondergaan en Linabo geword - ter ere van Mnr Lindsay, 'n afgetrede vorige skoolhoof, en die Van Abo familie wat omvangryke boerderybelange in die Noord-Vrystaat gehad het.

Die onge-ewenaarde groeitempo van die leerlingtal op Virginia: Teen die einde van 1958 het Virginia die volgende skole, met hulle leerlinge in hakkies, gehad: Virginia Hoërskool (621), Virginia Laerskool (±750) Harmonie Laerskool (±950), Merriespruit Laerskool (350) en 'n Convent (±150 leerlinge).

Hentie Cilliers het daarin geslaag om al die bogenoemde verwikkeling suksesvol te bestuur en die Skoolkomitee wat groot waardering daarvoor gehad het, het in 1961 aanbeveel dat die skool se naam na Hoërskool Hentie Cilliers verander sal word. Die aanbeveling is sonder teëstribbeling deur die OVS departement van Onderwys goedgekeur, Teëspoed het ongelukkig ook nie uitgebly nie, en Hentie Cilliers is op Saterdag, 4 Augustus 1962, op die ouderdom van 51 jaar en een dag, na 'n ernstige hartaanval oorlede.